Skoonmaak Aksie

Posted by on December 10, 2012 in Community Projects, Keep Wellington Clean, Lions Projects | 0 comments

Skoonmaak Aksie

Met wolke op die Hawequa berge het die aanbreek van die soel Saterdagoggend baie belofte ingehou en was ek om 8h00 ál wagtende kliënt voor Clicks se deur om “surgical gloves” te koop. P&P was ook nog redelik stil toe ek R72.36 op 6 liter sap en 20 polystyrene glase spandeer het.

My volgende stop was Wellington Drankwinkel – nee ek het nie iets vir ‘n “hangover” gesoek nie, net sakke, Lion bibs ens. vir die opruiming van later kom afhaal. Ek het die toonbank met dorstiges gedeel wat nog die letsels van Vrydagaand duidelik en luidkeels verkondig. “Oubaas, wat maak djy hi in onse bar soe vroe innie more?”

Angelo van Korrektiewe Dienste plus 6 manne het my by die begraafplaas ingewag, en het ons gou ons beplanning van die dag bespreek. Die res van die span, nl 9, is in Mbekweni gaan haal vanwaar 5 Jan van Riebeek weg vanaf Mbekweni tot by Champange straat “gesweep” het. Een span het Champange en Stokeryweg en ‘n stuk van Lady Lochweg gedek, sowel as die ingang en parkeerplek by ons 150 jarige stasie. Die ander groep is padaf in J v R weg, dorp toe, voor Andrew Murray verby, deur die geroesemoes van Hoofstr met sy mengelmoes van veral “plaasmense” tot onner in Stokeryweg.

Dis 9h00 en ek moet huistoe jae, om my gesig te ga was, want toe sweet ek – want dis Wellington. Ek het per e pos vir willb laat weet ek kom 10h00 “sharp” die toebroodjies haal. Ons, dis nou ek en Angelo, het onderling besluit ek sal dit 10h30 doen. Ek kan nie vir Willb60@gmail.com  (dis sy e-pos adres ) per e-pos laat weet van die veranderde tyd nie… ek moet die man bel, maar weet nie wie hy is nie. Waarvoor staan die b in sy e-pos adres? Ek begin kennisse bel, dis Saterdag oggend – niemand is by die huis of antwoord hullese selle… almal doen krismis shopping. Toe kry ek ‘n erge blonde oomblik en bel Milton Siebrits, hy bly 2 huise van Willb@gmail.com in 2 de laan. “Ja” seg Milton “daai b staan vir Botha, hier’s sy no”. Wel om ‘n lang storie kort te maak, ek het lekker gesels met willb60@gmail.com, alias Willie Botha, en is da weg om die hongeres se spyse en dranke vir hulle te ga gee. Dit het goed gegaan, totdat ek span 3 in Hoofstraat ga soek het. Ongeag die groen en geel bibs wat hul aan het wil dit voorkom asof die plaasmense uit pure “spitefullgeit” vandag besluit het om ook hullese geel en groen hemde, jerseys, broeke en kopdoeke te dra. Dit lyk of die Springbokke teen die Ausies rugby speel innie Main street. Waar kry ek hulle toe ek van Lady Lochpad terug kom, al wuiwende vir my agter ‘n berg vol swartsakke? Op die Stasie Hotel se parkeerplek… waar anders?

Gelukkig ga besoek ek Span 1, in J v R weg. Ai, hul sakke is op en ek het die laaste 7 vir Stasie Hotel se span gegee. Ek jae Checkers toe en ga koop 20 sakke van R19.99 en kry 10 sent kleingeld. Hoekom dit in die 1 ste plek nie R19.90 gemaak nie?

Kyk nou’s dit warm, dis 11.h45 en die bakkie, wat ek by my seun geleen het, het nie ‘n aircon nie. Eintlik moes ek sê gehuur het want die kinners se rygoed ry mos oppie dampe, en R100 se petrol later is ek weer oppie pad, die R19.99 se sakke gaan wegbring. Nou moet ek die hampers by die huis gaan haal, koue lap orie gesig vee. By die begraafplaas lyk dit of daar ‘n plaaswerkers betoging is, dis net busse en karre en bakkies waar jy kyk. Vanoggend was daar bokkerall. Ek kom toe agter daar is so ‘n paar “ter aarde bestellings”. Ek moet kompeteer vir ‘n parkeerplek. Gelukkig wys Angelo vir my ‘n plek aan. Angelo spreek hulle toe, en daarna Mnr Fanie Schoeman van die Munisipaliteit wat amper soos ‘n predikant, ‘n sedige dog kragtige boodskap, oordra. Ek gooi ook ‘n “speech”. Fanie gee namens die Munisipaal vir elk ‘n opvoedkundige “lucky packet” waarna ek die Lions se hamper oorhandig… van die begrafnisgangers wou ook op die “gifts” aanspraak maak.

Ons het vir almal ‘n Happy Xmas en Voorspoedige 2013 toegewens en die vergadering het verdaag. Ek het alles wat by Wellington Bottelstoor tuis hoort weer ga aflaai. Maar kyk toe ga dit jollie daar in die straat, dit lag, sing, dans… en swets. Ek kon maar net lag en my verwonder aan die mense se vrolikheid, ongeag hul moeilike lewensomstandighede. O ja daar is 108 sakke met rommel (misplaasde vullis ) gevul.

Voorspoedige nuwe jaar en geseënde Kersfees vir die Wellington Lions en hul familie.

 

Leave a Comment

Your email address will not be published.